Beskrywing:
Adriaan is ‘n valerige seun en nie uitermate goed in enigiets nie. Sy hond, Willem, is ‘n ander storie! Hy’s eintlik ‘n speurhond, ‘n superspesiale geheime agent-hond. Dit vind Adriaan uit toe Willem hom doodluiters een oggend inlig dat hy ‘n krat moet regkry sodat hulle daarin na Istanbul ge-“koerier” kan word.
Vanaf Istanbul lei die speurtog hulle ook na Venesië, Parys en Amsterdam – op ‘n soektog na die boef Sybrand Swiffervalk. Uiteindelik kan Willem sy geheime sending afhandel en hulle avonture eindig in Engeland.
En dit terwyl Adriaan se ouers dink dat hy op ‘n sokkertoer is . ..
Met swart-en-wit lyntekeninge deur Chris Venter. Hierdie boek was die naaswenner in Die Burger (KleinB) en NB-Uitgewers se kinderverhaalkompetisie in 2009.
Resensie
Willem is nie sommer ’n hierjy spanjoel nie. Hy is trouens nie eens ’n gewone hond nie. Speurwerk en avontuur loop in sy bloed en daar is min dinge waarvoor hy nie kans sien nie.
Sy taamlik skugtere eienaar, Adriaan, behoort eintlik aan Willem, nie andersom nie, want Willem is die een wat besluite neem en uitvoering daaraan gee. In hondejare is Willem al ouerig, maar lank nie koud nie. Om die waarheid te sê, hy kan ’n opponent met ’n karateskop kafdraf.
Eers dag Adriaan daar lê ’n lekker wintervakansie voor, maar Willem het ander planne: Hulle gaan op reis. Nie sommer plaaslik nie, nee, hulle gaan buiteland toe, en wel in ’n doelgemaakte krat, per vliegtuig. Bestemming: Istanboel. En dit is maar net die begin. Inmiddels meen Adriaan se ouers hy is op ’n sokkertoer – hoewel Adriaan nie juis ’n uithalersokkerspeler is nie . . . Maar nou ja, as Willem aan die stuur van sake staan, is alles moontlik. Hy is die klas speurder wat in ’n man soos Piet Byleveld se liga speel.
Van Istanboel af loop hulle pad deur ’n paar Europese lande (wat terselfdertyd die jong leser se kennis van geografie opknap). Alles om die unieke silwer tulp se bolle terug te kry wat van die regmatige eienaar gesteel is. Vreeslike dinge lê op hul pad: agtervolging deur ’n vermomde skurk, ondervraging in ’n polisiekantoor en ’n hittete ontsnapping uit die kloue van ’n heks wat hulle net soos in “Hansie en Grietjie” ewe vriendelik binnenooi; wel, as mens in hekse glo.
Uiteindelik tuis, het niemand buiten die skurke in Europa onraad vermoed nie. Net Willem en Adriaan weet van hul wonderlike reis en hul seges.
Avontuur en oorwinnings behoort die jong leser enduit gevange te hou en aan humor ontbreek dit allermins. Dit is ’n wenkombinasie. Wasserman verstaan die kuns om te vertel, en sy verstaan kinders en diere.
’n Mens wonder darem net of Willem, presiese kêrel wat hy is, nie sy wenkbroue sal lig oor aspekte van die taalversorging nie, soos kommas wat ontbreek tussen werkwoorde en die korrekte plasing van kommas in dialoog. Maar soos ’n mens Willem ken, sal hy dié probleempie seker ook oplos voordat Wasserman se volgende boek verskyn, want hierdie skrywer moet net haar lesers met opvolgavonture van die kranige Willem beloon.
Dit is een van daardie heerlike storieboeke wat eintlik vir kinders van so tussen 10 en 14 jaar bedoel is, maar ook aan volwasse lesers plesier besorg.
Jeanette Ferreira is ’n skrywer, vryskutredakteur en -resensent.
Beskikbaar by